Wednesday, 12 October 2011

Drie : Kleilat

Stories oor kaalvoet loop op warm teerpad.

Ek skryf hierdie nou met swart ink in 'n notaboekie neer. Dis vir my 'n bietjie eienaardig. Die swart ink, nie die boekie nie; ek skryf alles altyd in 'n notaboekie neer.

Groen Steri Stumpie in die hand sit ek en wag vir woorde om in my brein te vorm. Ek dink aan daardie gevoel wat 'n mens kry wanneer jy in 'n stranddorp 'n lift agterop 'n vriendelike vreemdeling se bakkie kry of wanneer jy The Fratellis se Costello Music album luister aan die begin van die Lente. Die gevoel wat jy kry as sy lag.

Wanneer laas het jy kleilat gespeel?

Vandag is ek lus om bootjies op die stroompie te dryf en om in 'n boom te klim. Ek wil 'n geheime fort bou en al my geld op cherry Bubbaloos en glasbottels Coke spandeer soos toe Danie-hulle nog in die wit huis gebly het. Soos toe ons nog gedink het 'n maalkolk in 'n porta-pool is die beste ding on the face of the planet.

Quand la vie etait beau, soos 'n mens in gebroke Frans sou sĂȘ.

Ek onthou nog die muur van Pilchards tamatie-blikkies, die vyeboom, die foto van Ernesto Guevarra teen daai hout deur in die kombuis en die groot bak bbq Nik-Naks waarin ek een oggend op die vloer wakker geword het. Ek onthou ook daai keer toe Moskou Danie se kamerdeur afgebreek het en die oranje Valiant Swart poster (Boland Punk) teen die perserige grys drywall.

Daar was nog 'n 8 till Late aan die oorkant van die pad waar ons Wilson toffies gekoop het en waar Danie eenkeer deur 'n kar omgery is.

Back then het ons nie seergekry nie.

No comments:

Post a Comment