Friday, 9 December 2011

Sewe : Die Vallei (Prosa)

Die hemel lek deur oor die goue gras
en geroesde hakkiesdraad.

'n Windpomp staan en blink soos 'n engel langs die treinspoor
voor die bloekoms, die poorte van die paradys;
die gelapte landskap met wingerde as wolke
waar beeste en volstruise langs die groot blink damme
van Godswater wei.

Hier tussen die bourommel en bontgeverfde plaashuisies
het die pers blommetjies hul eweige rusplek gemaak:
in heilige lig geklee en vasgevang in tyd.
Dis tien vier-en-veertig op 'n Vrydag oogend en ek sit in my onderbroek voor my tikmasjien met David Kramer wat by my platespeler probeer uitklim. Ek was lank besig om rympies in 'n swart Croxley boekie op sypaadjies en onder akkerbome te skryf, maar nou is ek weer agter die wiel van die Weerlig. Let's take it for a spin, shall we?

Saturday, 22 October 2011

Ses : Rustig

Die Stags Head kroeg. Een Castle draught asseblief. Dankie. Ek verkyk my aan die wêreldbeker sokker landsvlaggies wat amper twee jaar later nog bo die kroegtoonbank hang. Sho.

Die barmeisie se naam is Sparkles, en ek lieg rêrig nie nou vir jou nie. Daar hang 'n houtlepel aan 'n tou uit die dak uit vir elke vorige barman (of barpersoon vir almal wat issues het) en bo op die drank-rak sien ek daar staan 'n versameling interessante bierblikkies.

Dis lekker rustig hier.

Ek hoop jy is net so rustig, waarookal jy is. As jy nie is nie, wil ek hê jy moet nou 'n bietjie terugsit en vir my rustig raak.

Vandag voel alles asof dit home-made is.

Tuesday, 18 October 2011

Vyf : Kurkboom

Hierdie stuk begin ek nou oorskryf op 'n vars  bladsy, terug in my familiêre blou pen en in 'n handskrif wat ek nie eers kan lees nie. My kop is vol Dinsdag en my oë is vol sonlig - vir omtrent 'n splitsekonde, dan verdwyn dit weer tussen die groot grys gediertes in die lug.

Skuins agter my op die sypaadjie is daar 'n hoop grond en stukke opgekapte teerpad. Daar groei klein stukkies groen daaruit. Aan die ander kant staan daar 'n non-descript boom. Verdere ondersoek bewys dat dit 'n kurkboom is. Reg voor my, aan die oorkant van die straat, is daar 'n paar werkers wat besig is om 'n groot gat te grawe met 'n JCB. Ek weet nie hoekom nie.

In 'n verbeeldingswêreld iewers klim daar twee mans van trein af. Heel ominous like. Hierdie wêreld is die bose stiefbroer van die dorp waar Spoegwolf se "Wadda en die Walvis" deur my vriend Danie afspeel. Dit is nie Eutopia nie, en ook nie Distopia nie. Dis die derde opsie.

'n Gek plek waar 'n mooi meisie in 'n blou Ford Anglia ry verby twee mans wat sit op 'n bankie op die hoek van Vrede- en Hoopstraat, heel onwtend.

Terug by die werklikheid is my koffie besig om koud te word. Ek kan onthou toe ek vir die eerste keer koffi gedrink het. Dit was uit 'n snaakse Coleman-effek uit (ek dink dit was rooi en wit, maar ek is nie seker nie) langs die dam bo aan die punt van Klein Reservoirstraat. Net 'n klein bietjie annermanse nostalgie om jou aan die gang te hou.

Die twee trein-trawante, nuwelinge in Skuinstopia, soek skuiling vir die nag. Eintlik het die twee nie beplan om Skuinstopia (yes, I'm calling it that) hul eindbestemming te maak nie, maar dinge gebeur vinnig in die donker.

Veral in plekke soos Skuinstopia, 'n skewe spieëlbeeld van Stellenbosch, Kaapstad en Matjiesfontein, gesien deur die oë van 'n skizofreen.

Ek is bang om te lank daar rond te dwaal.

Thursday, 13 October 2011

Vier : Pleisters

Miskien het ons dinge reggekry in daai tyd omdat ons nie geweet het dat ons dit nie behoort te kan regkry nie.

As ek en Chris die kelfte van die kak wat ons in die laerskool aangevang het nou weer sou probeer, sou ons doodgegaan het. Letterlik. Iewers tussen grassnyerpetrol-bomme, slange, skerpioene en die shipping lanes op paddleski's invaar sou ons definitief ons gat gesien het, en dit is nog net die tip of the iceberg, soos die Ingelsman sê.

As jy klein is doen jy groot dinge. As jy grootword hou jy op. Jy moet, anders sal jy heeltemal afchop. Of jy moet net nooit leer dat jy dit nie kan doen.

Ek dink jy raak gewoond aan al hierdie reëls en 'wenke' en die idee dat jy moet veilig en versigtig wees en dan verloor jy jou jeugdige untouchability. Die heelal beskerm jou nie meer nie.

Ons het eenkeer met 'n flippen halfgebrande boomstomp by die berg afgeseil. Kaalvoet. Hel, ons was heel moontlik nog in ons onderbroeke en vol modder gesmeer tussen gebreekte glasbottels ook. Ons was Tarzan. Ons was heeltemal sonder vrees en ons het ge boldly go waar no man al ooi gego het nie.

En toe sny ek my voet oop.

Wednesday, 12 October 2011

Drie : Kleilat

Stories oor kaalvoet loop op warm teerpad.

Ek skryf hierdie nou met swart ink in 'n notaboekie neer. Dis vir my 'n bietjie eienaardig. Die swart ink, nie die boekie nie; ek skryf alles altyd in 'n notaboekie neer.

Groen Steri Stumpie in die hand sit ek en wag vir woorde om in my brein te vorm. Ek dink aan daardie gevoel wat 'n mens kry wanneer jy in 'n stranddorp 'n lift agterop 'n vriendelike vreemdeling se bakkie kry of wanneer jy The Fratellis se Costello Music album luister aan die begin van die Lente. Die gevoel wat jy kry as sy lag.

Wanneer laas het jy kleilat gespeel?

Vandag is ek lus om bootjies op die stroompie te dryf en om in 'n boom te klim. Ek wil 'n geheime fort bou en al my geld op cherry Bubbaloos en glasbottels Coke spandeer soos toe Danie-hulle nog in die wit huis gebly het. Soos toe ons nog gedink het 'n maalkolk in 'n porta-pool is die beste ding on the face of the planet.

Quand la vie etait beau, soos 'n mens in gebroke Frans sou sê.

Ek onthou nog die muur van Pilchards tamatie-blikkies, die vyeboom, die foto van Ernesto Guevarra teen daai hout deur in die kombuis en die groot bak bbq Nik-Naks waarin ek een oggend op die vloer wakker geword het. Ek onthou ook daai keer toe Moskou Danie se kamerdeur afgebreek het en die oranje Valiant Swart poster (Boland Punk) teen die perserige grys drywall.

Daar was nog 'n 8 till Late aan die oorkant van die pad waar ons Wilson toffies gekoop het en waar Danie eenkeer deur 'n kar omgery is.

Back then het ons nie seergekry nie.

Tuesday, 11 October 2011

Twee : Wimpy

Ek kyk na die mense wat verbyloop.

Die buite-tafels by die St. George's Wimpy is die beste plek om te "people watch". Elke persoon wat verby my blou-en-grys plastiektafel loop het sy eie agtergrond storie en natuurlik ook sy eie toekoms. Sy eie imediate toekoms. Dis interessant om te bespiegel oor wat volgende met elkeen van hulle kan gebeur.

Die man met die groen das, byvoorbeeld, mag dalk besluit om sy frustrasie op die student in Edgars uit te haal. Edgars-ou moet dalk eers uitglip vir 'n sigaret om sy senuwees te kalmeer en so ontmoet hy miskien die liefde van sy lewe. Of miskien nie.

Wimpy is 'n lekker plek om na mense te kyk, maar ek kyk nou na die plek self. Daar is min ketting-eetplekke wat so Suid-Afrikaans soos die Wimpy is. Wimpy probeer nie te hard om "kultureel" te wees nie, en daarom kry hulle dit reg. Net soos Steri Stumpie is Wimpy vasgebrand in die Suid-Afrikaanse kultuur. Dis deel van ons erfenis. Hulle probeer ook nie om Amerikaans te wees nie. Los dit maar vir Prime Circle, Crash Car Burn en Ard Mathews.

Jy dink seker hierdie lees soos 'n resensie. Jy's seker reg, maar ek gee nie nou te veel om nie. Ek smaak dit stukkend hier in Town Square.

Vandag gaan ek my Dinsdag-ding doen in die tuine, leer hoe om 'n dinosaurus op die rekenaar te teken en miskien 'n bietjie dig. Dis nou 'gedigte skryf' indien daar verwarring plaasgevind het.

Miskien is dit in my geval eerder flimsy versies en goedkoop rympies as wat dit gedigte is, maar dis hoe ek daarvan hou. Short and sweet, cheap and cheerful.

Vandag, soos wat Piet Botha sou sê, is alles mamba. Die sonnetjie skyn, ek mot rond in Kaapstad en ek kan Suitcase Vol Winter (die beste album van alle tye) op repeat sit.

In die woorde van die baas:

Sien jou weer.